fbpx
Blog Header
Unknown

IN THE PRESS

13/04/2021

The below article featured in local South African newspaper “Rapport” on Sunday 11 April, 2021:

Die trosvyboom waaronder die bruid en bruidegom amper twee dekades terug ewige trou beloof het. Foto’s: Annie Olivier Sowat twee dekades gelede het ’n digte woud koorsbome naby Mkuze vir Annie Olivier bekoor. Sy’s terug daarheen om dié keer ’n foto te neem.
‘Stap aan tot voor by die pier . . . daar is nie krokodille nie – dis régtig nie gevaarlik nie.”

Mevrou Stadsjapie se oë staan pierings waar sy voor die “Beware of the crocodiles”-teken vashaak. Sy lyk nie oortuig nie. Meneer glimlag ietwat verleë.

Toe ek omkyk, stap hulle verder – duidelik oortuig deur die hartlike Jean Toucher, safari-bestuurder by die Ghost Mountain-hotel by Mkuze in die noorde van KwaZulu-Natal. Jean praat met die selfvertroue – én gesag – van iemand wat al 17 jaar by hierdie oase op die water werk.

Ek en Jean het saam na die pier se eindpunt gestap sodat sy my die grys knoets van Ghost Mountain kon wys. Die hotel se heel mooiste kamers kyk daarop uit en op ’n deel van die Lebombo-bergreeks.

Vroeë Europese reisigers in die gebied het saans flonkerende ligte teen die berg gesien en vreemde geluide vanaf daar gehoor en dis tóé dat die storie van die spookberg begin loop het. Jean glo egter dit was waarskynlik die vure van die plaaslike Gaza-familie.

Die Gazas het hul stamhoofde altyd in ’n grot op die berg begrawe en hul begrafnisrituele kan dalk ook ’n verklaring vir die vreemde ligte en geluide bied. Nadat die Gazas in 1819 deur Shaka se impi’s oorval is, het hulle na die hedendaagse Mosambiek gevlug, maar vir jare daarna nog hul stamhoofde se gemummifiseerde lyke in swart bulvel na die berg gebring om daar begrawe te word. Om dié rede word die berg vandag nog deur swart mense as heilig beskou, vertel Jean.

Koorsbome omraam die soutwaterswembad van die Ghost Mountain-hotel.

Toe ons terug is by haar lessenaar stop sy my ’n kaart van die uMkhuze-reservaat in die hand en merk waar ek oral koorsbome te siene sal kan kry. Ek was meer as 17 jaar gelede vir die eerste keer by Ghost Mountain vir ’n troue wat in die hotel se pragtige tuin onder die statige trosvy of umncongo in Zoeloe en teen die agtergrond van etlike koorsbome plaasgevind het. Dit was die eerste keer wat hierdie gebore Kapenaar van ’n koorsboom kennis geneem het. Ek was dadelik verlief.

Laatmiddag ondergaan die boom ’n transformasie en gloei spookagtig geel teen die bos en die blou lug – asof dit koors het.

Daar is iets magies aan die koorsboom (umkhanyakude in Zoeloe) met sy lemmetjie-silwer bas wat ’n ligte geel poeier op jou vingers agterlaat as jy daaraan vat. Laatmiddag ondergaan die boom ’n transformasie en gloei spookagtig geel teen die bos en die blou lug – asof dit koors het.

Destyds is ek saam met ’n deel van die trougeselskap na een van die nabygeleë reservate waar ons by ’n uitkykpunt oor ’n digte woud koorsbome uitgekyk het. Daardie prentjie het my asem weggeslaan en altyd nog by my gespook. Ek moes eenvoudig terugkeer en dié keer sou ek onthou om ’n foto te neem!

Ghost Mountain het vir die res van die jaar ’n spesiale aanbod aan waar jy vir twee nagte betaal, maar vir drie kan bly. Die oomblik toe ek dit sien, het ek dus dadelik vir my en my man bespreek. Toe ek ons besoek beplan, kon ek egter nie onthou of ek destyds na die uMkhuze- of Hluhluwe-Imfolozi-reservaat is nie. uMkhuze is ’n Groot Vyf-reservaat net sowat ’n halfuur van Ghost Mountain op ’n taamlik interessante grondpad wat jy liefs met ’n sportnutsvoertuig wil aanpak, so ons besluit toe om die koorsboomwoud eerste daar te gaan soek.

Die platkroondoringbome span die kroon op ’n besoek aan die uMkhuze-reservaat.

Platkroondoringboom

Ek lees vooraf uMkhuze is gewild onder voëlkykers en jy sal enigiets van bloukuifloeries en verskillende soorte visvangers tot renostervoëls en rooibekkweleas daar vind. Dit was egter die bome, spesifiek die platkroondoringboom, wat my asem weggeslaan het in uMkhuze. Die platkroon is die rolprentster van doringbome – meer Out of Africa sal jy nie kry nie en hulle staan as’t ware die hele park vol.

Volgens die webblad van die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) kom die platkroondoringboom veral in die noordelike dele van die Oos-Kaap, aan die KwaZulu-Natalse kus en die noorde van Limpopo voor. Olifante is glo mal oor die boom se blare en wanneer dit blom, trek dit talle besonderse skoenlapperspesies aan. Die boom het ook etlike medisinale aanwendings.

Die koorsbome was presies waar Jean aangedui het hulle sou wees en hulle hou skynbaar daarvan om aan die rand van panne te groei, soos by die iNsumo-pan in die suidooste van die park. ’n Indrukwekkende koorsboomwoud het ons egter ontwyk. Dié was dan seker by Hluhluwe-Imfolozi . . .

’n Padpredikant met ’n boodskap wat stadsjapies gerus kan eerbiedig.

Stadig, dis Mkuze

Terug by die hotel het ons onmiddellik in die soutwater-swembad gaan plons en daarop gefokus om die kuns van leeglê te vervolmaak. Dit was heel maklik gegewe dat ’n mens by Ghost Mountain ’n sirkelroete van jou kamer na die restaurant en van daar na die swembad en weer terug na jou kamer volg, met ’n lekker afdraaipad na die hotel se spa as jy wil. Ons kon ook heerlik op ons kamer se stoep uitspan wat danksy die welige plantegroei baie privaat was.

Vir afwisseling kan jy gaan op een van die vele uitstappies wat die hotel aanbied. Daar is wildritte na uMkhuze en Hluhluwe en sowel ’n stapsafari as ’n toegespitste fotografiesafari na die Manyoni- private wildreservaat digby die hotel. Verdere opsies is om te gaan tiervis vang op Jozini-meer of om in ’n boot op die meer te gaan vaar.

As jy belangstel in ’n kulturele ervaring, kan die hotel reël dat jy historiese Zoeloe-slagvelde besoek, aandoen by ’n plaaslike gemeenskapsprojek of op ’n kulturele staptog deur die gemeenskappe van die Lebombo-berge gaan waar jy meer sal leer oor landelike Zoeloe-gebruike en boonop mooi uitsigte sal sien.

’n Bordjie waarsku teen die krokodille, maar Jean Toucher, safari-bestuurder by die Ghost Mountain-hotel, stel besoekers gerus dat die reptiele elders swem.

’n Mens sou maklik vir vyf of meer dae by Ghost Mountain kon afpak en as jy van Johannesburg af kom, sou ek aanraai dat jy minstens drie nagte bly. Enersyds oor dit maar ’n lang pad is en andersyds omdat die luukse kamers en die gasvryheid van die personeel jou sal laat wens jy kon langer bly.

Die Ghost Mountain-hotel is in 1962 deur Maureen en Roy Rutherfoord gebou en is sedertdien in die familie se besit. Roy was ’n kleinhandelaar wat etlike winkels in die gebied besit het – van die familie se winkels is in latere jare in Spar-winkels omskep, soos die Superspar op die dorpie Mkuze wat op dieselfde perseel as die oorspronklike winkel opgerig is.

Jean vertel meer en meer mense het die gebied in die 1950’s en 1960’s begin besoek en aangesien daar nie veel verblyfopsies was nie, het besoekende hooggeplaastes en ander mense altyd by die eienaar van die mooiste huis in die omgewing gebly. Dit was die Rutherfoords s’n. Volgens Jean het Maureen op ’n stadium glo net vir haar man gesê as hy nie nóú ’n plan maak en ’n hotel bou nie, dan is sy vort.

Ons kamer was pragtig uitgerus met ’n supergemaklike bed en ’n moderne badkamer. Gegewe die hotel se prysklas, sou ’n mens dit wel verwag, so dis die klein goedjies en natuurlik die diens wat uiteindelik die verskil maak. Wat my beïndruk het, is die dompelkoffiepot met Bean There-koffie, ’n teepot (ek is ’n groot teedrinker), die Wedgewood-nougat op ons kussings en die feit dat die lugversorging reeds aan was toe ons die eerste dag daar aankom.

Die hotel doen ook groot moeite om gaste vooraf gerus te stel dat hulle die nodige voorsorgmaatreëls tref ten opsigte van Covid-19. Kamers staan byvoorbeeld vir 24 uur leeg voordat die volgende gaste dit betrek.

My enigste klagte is dat die ontbyt-buffet effens verbeeldingloos is vir ’n hotel van hierdie standaard. Ons moes ook saans ’n bietjie wag om bedien te word – dit het gelyk asof hulle nie genoeg personeel gehad het nie. Wanneer die kos egter gekom het, was dit heerlik. Die bestuurder was ook elke aand op die vloer en het self ingespring om tafels af te dek en gaste se bestellings te neem.

Ons het ons uiteindelik maar laat lei deur die padteken net buite die hotel – “Slow down – this is Mkuze”. By Ghost Mountain het ons rus vir ons stadsmoeë siele gevind en ons sal beslis weer gaan. Ek moet immers nog daardie koorsboomwoud vind!

view all stories